Verstaan die Genade boodskap

Verstaan die Genade boodskap


Daar bestaan ‘n groot twee spalk in die kerk rakende die interpretasie van die genade boodskap.
 Aan die eenkant het jy ‘n weergawe wat leer dat die eenmalige dood van Christus beteken dat daar net ‘n eenmalige offer gemaak is deur Christus en wat tot gevolg het dat jy nie meer sonde het nadat jy Christus aangeneem het nie. Alhoewel dit korrek is ontstaan daar nou die versigtigheid van ’n ander oortuiging dat hierdie benadering gevaarlik is en te weeg kan bring, dat jy ná jou bekering weer ‘n lewe van sonde kan lei en nog steeds vir seker is om Sy koninkryk te beërwe.
In die hele proses verloor ons as kinders van God so baie uit op die voordele wat daar regtig vir ons weg gesluit lê in hierdie boodskap van hoop en genade. Ons diskwalifiseer onsself heeltemal van al die seëninge en vryheid in Jesus deurdat ons totaal wegskram van hierdie aspek……of aan die anderkant misbruik ons dit dalk? , deurdat ons nie totaal ingelig is nie.
Voordat ek my verduideliking gee is dit belangrik om beide hierdie weergawes van die genade boodskap te bestudeer. Ook om nie net in jou eie oortuiging vas te hou nie, maar jouself te bekend te maak met wat in die Woord staan. So kan jy dan ook ander wat onder valse informasie verkeer, die nodige hulp verleen en die verligte oë van die verstand openbaar.

Die eerste interpretasie van die genade boodskap.

“Die Eenmaal Gered groep.”


‘n Groot deel van die groep verstaan die genade boodskap as die eenmalige vergifnis van sondes en daarna die lewe en gawe van genade wat die Christen vryspraak gee. Hoofsaaklik as gevolg van die Woord wat ons daarop wys, dat Sy offer eenmalig was, en ons nie nodig het vir elke dag se belydenis nie, maar eenmaal gered deur sy liefde en genade.  Hierdie stelling is korrek en staan in die Woord:           
·      Heb 7:27 “Want so ’n hoëpriester.....wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.”
Ook die feit dat Christus gesterf het bring vir ons die genade, vergifnis en voorspraak by God, soos gesien in 
·      1 Joh 2:1 “MY kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”
Om dan by hierdie steeling aan te pas is die bekende 
·      Rom 8:1, 2 “DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”
Ons lees ook verder dat die sondige dade wat ‘n Christen dan doen, nie gesien word as sonde nie maar swakheid van die mens, wat weer deur God se genade vergewe word. En dit staan ook so in Sy Woord:
·      Rom 7:20” Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.”
Al die bogenoemde punte is inderdaad van toepassing vir die kind van God en dit is juis al hierdie wonderlike beloftes wat ons op uit mis omdat dit gekoppel word met die genade boodskap wat verkeerd verstaan word. 
Ons moet wel verstaan dat dit net van toepassing is op jou as kind van God wanneer jy nie ‘n doelbewuste lewe na die vleeslike begeertes of sonde lei nie. 


Die tweede interpretasie van die genade boodskap.

“Die Belydenis groep.”


Hierdie is die groep wat glo dat ons uit genade gered is, maar as ‘n geredde kind van die Here is dit nodig om die sonde af te le en ‘n nuwe lei deur die ou lewe af te sterf. 
Ek dink dis belangrik om op hierdie punt twee aspekte aan te spreek wat baie belangrik is. 
Die verskil tussen opsetlike sonde (met ander woorde die lewe wat jy as sondaar gelei het) en impulsiewe optredes wat ‘n sondige uitwerking het. Onthou dat Rom 8:1 verwys dat daar geen veroordeling is vir die wat in Christus is nie, maar nou moet ons ook besef dat die wat in Christus is nie veronderstel is om doelbewuste sonde te doen nie. 
Ook verwys hierdie selfde vers dat hierdie kwalifikasie slegs is vir die wat nie na die vlees wandel nie, met ander woorde, die wat nie ‘n doelbewuste neiging het na die vleeslike begeertes nie.
Maar kan dit wees dat daar Christene is wat ‘n sondige lewe lei? Die antwoord is absoluut JA. 
Dit is nodig vir die kinders van God om te besef dat daar wel Christene, Gerrede kinders van God wat langs die pad weer die lewe begin lei wat hy in die wereld gelei het soos dronkenskap en drinkpartye, ligsinnige en vulgêre gesprekke en grappe. Selfs Pastore, Ouderlinge en gesiene mense wat vasgevang is in pornografie, buite egtelike verhoudings,. Al hierdie dinge word uitdruklik in God se woord na verwys as werke en begeerlikhede van die vlees. 
Met ander woorde, dat as jy as kind van God jou skuldig maak aan hierdie dinge, jy jouself diskwalifiseer van die outomatiese genade en vergifnis. Jy sal moet breek met hierdie lewe wat eens sonde was en erken dat jy terug gekeer het in hierdie sonde, dit bely en dit laat staan en weer vergifnis kry.
Jesus se vir die owerspelige vrou dat sy is nie veroordeel nie maar soos in Rom 8:1 sien ons ‘n spesifieke vereiste. Gaan en sondig nie meer nie of dan soos in Rom 8 se weergawe, moenie na die lewe van die vlees wandel nie. Daar is ‘n definitiewe afkeer in God se Woord na hierdie tendens wanneer die mens doelbewus die werke van die vlees begeer of dan opsetlik sondig. 
·      Heb. 10:26 “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.”
Hier bly dus geen offer meer oor nie, verwys na die offer van Jesus aan die kruis wat nie opsetlike sonde outomaties kan vergewe nie. So persoon wat hom skuldig maak kan wel vergifnis kry wanneer hy/sy hul sonde bely en laat staan en God vergifnis vra vir hul opsetlike strewe na die wêreldse begeertes en die lewe van die vlees. 
God is so liefdevol en getrou dat Hy altyd sal vergewe maar is dit die lewe wat jy as kind van God wil lei deur opsetlik Sy bloed vertrap? Verder in Heb. 10:29 bevestig die Woord dit: 
·      “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
So wat is dan die verskil tussen opsetlik sondig en impulsiewe sonde? Dis eintlik baie vanselfsprekend deur ‘n paar voorbeelde. Daar is werke van die vlees soos woede, vuil taal en haat. Die oomblik as ‘n voertuig voor jou inswaai gebeur daar soms in baie Christene ‘n onwillekeurige reaksie wat al 3 hierdie dinge insluit. Sou daardie persoon sterf in ‘n ongeluk wat daaruit ontstaan het, sou hy dan genade ontvang? 
Wel, ek dink dis maklik om te verstaan dat hierdie persoon nie vanoggend opgestaan het met ‘n vooraf beplande idee om so op te tree nie. Dis in totale teenstelling met ‘n persoon wat by sy volle bewustheid en sonder impulsiewe dade, agter ‘n rekenaar sit en doelbewus of opsetlik die mees onheiligste en vulgêrste foto’s en video bekyk. 
Die man of vrou in ‘n buite egtelike verhouding het geen verskoning voor God dat hulle nie in ‘n posisie was om dit op te breek nie. So, kan ek vele situasie verduidelik waar die vleeslike begeerte met opsetlikheid en volle beheer uitgeoefen is. So, wat het van die man geword wat gesterf in in sy motor ongeluk? 
Wel, as ek die boodskap reg verstaan, sien ek nie iemand wat opsetlik gesondig het nie, en ook nie iemand wat daardeur die bloed van Jesus vertrap het nie, maar ek sien iemand wat deur die genade van die Here vergifnis kan ontvang en nog steeds die koninkryk van die Here beërwe.
Sonde en werke van die vlees word duidelik in God se Woord uit gelig en as jy jouself opsetlik skuldig maak aan herhaaldelike gewoontes om hierdie werke te doen, moet jy besef watse groot gevaar jou interpretasie van genade kan wees. Hierdie werke en begeertes is soos egbreek, hoerery, dronkenskap en drinkpartye, vuil taal, losbandigheid en vele meer.
Daar is nog 4 gedeeltes in God se Woord wat Hy hom te sterkste uitspreek en hierdie werke verafsku. Die skokkende waarheid is dat daar is vele Christene wat hierdie dinge doen maar hul oe is verblind en gesus onder die era van genade.
·      Ef. 5:9 “En beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.”
·      Rom 13:11 “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.” 
·      Gal 5:18 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;
afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
·      1 Pet 4:2, 3 “om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.”
Noudat ons hierdie aspekte direk aangespreek het, kan ons nou met ‘n oop gemoed weer kyk na die enorme groot voordeel van genade wat daar is die wat NIE DOELBEWUS die lewe van die vlees bewandel nie. Vir so kind van God wat in Christus Jesus is, is daar geen veroordeling nie, en die genade van Jesus wat jou oortredinge (nie opsetlike sonde) vryspreek. Hierdie wonderlike wete dat jy as kind van God Sy koninkryk gaan en sal beërwe omdat jy in Jesus Christus is. Kom ons koester hierdie wonderlike voordeel en genade wat Hy vir Sy kinders gee.
Ek sluit af met Paulus se vraag vir elkeen van ons:
·      Rom 6:1, 2 “WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”
Ons moet waak dat ons nie in ’n strik vasgevang word waar die genade van die Here verdraai word om by die lou christen te pas nie. In die laaste boek voor Openbaring waarsku die boek van Judas in Hf 1:4 ons van hierdie verdraaiing 
·      Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”

As ons die ware en opregte doel en boodskap van hierdie vryspraak kan begryp, kan ons as ware erfgename en kinders van God die volheid van die genade boodskap uitleef en ervaar met die wete dat ek leef nie in veroordeling nie, ek is nie onder die wet nie, ek het geen aanklag teen my naam nie en ek is waarlik vry!


Comments

Popular posts from this blog

Laat die dooies, die dooies begrawe

Die balsem van Gilead

Trek aan jou kleed